Dit is nou al vyf jaar sedert die publiek vir die eerste keer van Leah kennis geneem het toe sy die vroulike hoofrol in die rolprent As jy sing vertolk het.

Sedertdien het sy groot sukses met haar debuutalbum, Wonderwerk, behaal; dié album het treffers soos “Met jou klere aan”, “Meer as niks” en “Volmaan” opgelewer. Sy het ook een van die hoofrolle in die rolprent Susters vertolk en die aanbieder van die televisieprogram Boer soek ’n vrou geword.

Dit is dalk die rede hoekom haar aanhangers so lank vir ’n nuwe album moes wag, maar haar jongste album, Kyk na my, is eindelik vrygestel. Johan Vorster het die eerste snit op die album, “Ek noem jou myne”, geskryf; dit behoort die volgende enkelsnit op die album te wees aangesien dit ’n groot treffer kan word. Die volgende snit, “Girls night”, is in Afrikaans en Engels ingesluit en veral met die Engelse weergawe gaan sy ’n spul aanhangers ryker word. Dis goed dat dié liedjie só geskryf is dat Afrikaanse en Engelse woorde ewe goed daarby pas, en dis boonop ’n oorspronklike komposisie. Hier kom een van die plaaslike treffers van die jaar, ongeag in watter taal dit gesing word! Die titelsnit wys Leah se ernstige kant, en dis dalk goed dat haar album nie die titel van een van haar vrolike liedjies dra nie aangesien dit haar ander kant wys. Johan Vorster en Karen Zoid het saamgespan om dit te skryf, en die boodskap is dat almal op ’n stadium in hul lewens kwesbaar is en dat daar niks daarmee verkeerd is om na iemand uit te reik nie. Die musiekvideo vertel die verhaal van ’n jong meisie wat aan kanker ly en ’n jong man wat haar die heeltyd bystaan en ondersteun. “Toe ek joune was”, is ’n baie goeie snit wat deur Johan Vorster geskryf is. “Dromer” is nie ’n onbekende snit nie; Hugo Ludik en Vaughan Gardiner het dit saam geskryf. Jo Black sing “Nooit alleen” saam met Leah; hierdie liedjie het in die rolprent Susters voorgekom. “Ek mag jou mis”, is nog ’n snit wat ook al voorheen vrygestel is maar vir die eerste keer op ’n album van Leah voorkom. Die musiekvideo van hierdie snit is aan die Kaapse Weskus verfilm. Die laaste Afrikaanse snit op die album is “Selfie song”, wat sy saam met Snotkop en Kurt Darren sing. Leah het met hierdie snit, en ander wat sy gereeld tydens haar vertoning sing, gewys dat sy ’n baie goeie popsangeres is.

Daar is regtig nie een swak snit op die album nie en beslis nie een wat as ’n weggooisnit beskou kan word nie. Die feit dat ’n paar snitte ook reeds voor die tyd vrygestel is, het ook gemaak dat mense presies geweet het wat om te verwag. Daar is net een punt van kritiek; die album bestaan net uit nege snitte en is net meer as ’n halfuur lank. Dit maak egter dat ’n mens die album van begin tot einde kan deurluister. Dis een van die lekkerste albums deur ’n vroulike kunstenaar wat tot dusver vanjaar vrygestel is en as jy nie reeds ’n aanhanger is nie, sal jy een word as jy eers na hierdie album geluister het.