Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Voortrekkermonument het opnuut ’n skrywe aan die Tshwane- munisipale bestuur gerig waarin dié organisasies ’n oplossing bied vir die bewaring van die beleërde beeldegroep op Kerkplein in Pretoria.
Dit kom nadat daar die afgelope week weer reuseskade aan die burgerwagte aan die voet van die Paul Kruger-standbeeld in die Jakarandastad aangerig is. Hoewel daar ’n heining om die beeldegroep is, slaag booswigte keer op keer daarin om deur die heining te breek en die beelde met alles van verf tot brandbomme te takel. In die jongste voorval is een burgerwag se voet heeltemal afgebreek.
“Die FAK pleit reeds vir jare vir die verskuiwing van die oorspronklike beeldegroep op Kerkplein,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK. “Ons het in Oktober verlede jaar, ná die soveelste vandaliseringvoorval, ’n dringende skrywe aan Tshwane hieroor gerig, en nou weer. Die FAK het ook ’n petisie van stapel laat loop waarin die publiek se steun gevra word om Kerkplein én die beelde te red.
“Die beelde het onmeetbare historiese én kunswaarde, en is onvervangbaar. Die FAK is verbind tot positiewe samewerking met Tshwane en die skep van volhoubare oplossings vir die bewaring van erfenisbakens. Ons het reeds in 2019 volledige 3D-skanderings van die beeldegroep gemaak en lewensgetrou gedruk. Bykans 80% van die werk is boonop klaar gedoen om gietvorms vir die beelde te maak,” sê Langner.
Die FAK het ook reeds, danksy die steun van verskeie organisasies, ’n brons ewebeeld van Paul Kruger se 4 meter hoë Kerkplein-standbeeld gemaak. Dié 1,5 ton-beeld toer tans deur die land en word op 10 Oktober – met die 200ste herdenking van Kruger se geboorte – op Orania se dorpsplein onthul.
“Ons erfenis is enersyds nie onderhandelbaar nie, maar andersyds het ons ’n werkbare oplossing. Ons vra eenvoudig: Laat ons toe om die beeldegroep vir veilige bewaring na die Voortrekkermonument-terrein te verskuif en dié op Kerkplein met hars-replikas te vervang. Verskeie van die beeldhouer Anton van Wouw se werk het reeds ’n veilige tuiste by die Monument gevind, waar dit vir toekomstige generasies behoue kan bly,” sê Langner.
Volgens Langner is die harde werklikheid dat die politieke wil ontbreek om die vandalisering van beelde en bakens regdeur die land te stop. Dit word trouens aktief en aggressief aangemoedig. “Die
FAK se antwoord om die beeldegroep op Kerkplein met replikas te vervang, sal verseker dat dit in sy historiese konteks en karakter behoue bly. Dit sal Kerkplein in wese red. Daar is geen ander konstruktiewe antwoord nie.
“Dit sal voorts toekomstige herstelwerk (aan die replikas) meer bekostigbaar en makliker maak, en terselfdertyd verseker dat die oorspronklike brons beelde veilig by een van ons land se voorste toerismebestemmings en graad 1- nasionale erfenisbakens is,” sê Langner.



