Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Almal wat in die vroeë en middel negentigs tieners was, sou seker die een of ander tyd hul hande op Marita van der Vyver se onvergeetlike Die dinge van ’n kind gelê het.

Nou het die gedugte span Francois Toerien (as teksverwerker) en Nicole Holm (as regisseur) die boek verwerk in ’n teaterproduksie wat by die afgelope Aardklop Kunstefees gedebuteer het.

Die produksie, wat net so onder die 80 minute is, is ’n emosionele landskap wat strek van trane, lag, wrewel, vergifnis en onskuld – wat iewers in die laat sewentigerjare verlore gegaan het. Dit is ’n verhaal van ’n kind wat moes grootword.

Dit vertel die storie van Mart wat in die koshuis moes gaan bly en dáár vir Dalena ontmoet het wat swanger geraak het en toe in ’n tehuis vir ongehude moeders beland het. Van Mart wat verlief geraak het op ’n troepie, maar hom aan die dood moes afstaan. ’n Seun wat sy onskuld en sy lewe in die bosoorlog verloor het.

Dit moes redelik moeilik gewees het om die boek in ’n teaterproduksie te verwerk, want daar verskyn baie hoofkarakters en newekarakters in die boek. Dit is eintlik jammer dat die groot geld in sport ingedruk word en nie in die teater nie, want die produksie so soveel beter kon wees as al die hoofkarakters hul verskyning op die verhoog kon maak.

Tog het Cintaine Schutte, wat bekend is vir haar rolle in Fynskrif en Johnny is nie dood nie daarin geslaag om lewe, deur goeie karakterisering, aan die ander karakters te gee. Mart se onskuld word oortuigend uitgebeeld en Dalena, die tawwe koekie, se weerloosheid slaag deur haar uitbeelding.

Cintaine slaag ook daarin, om sonder die hulp van ander karakters, die sweterigheid van die Laeveldse hitte en die bibberkoue van Londen oor te dra.

Hoewel Cintaine 31 jaar oud is, slaag sy daarin om die rol van ’n 16-jarige te vertolk en dan weer die skoene van die ouer Mart vol te staan. Die ouer Mart wat ’n brief skryf aan Dalena se verlore dogter. Mart se broer se dogter.

Cintaine gebruik ook die verhoog om die twee wêrelddele uit te beeld. Die regterkant van die verhoog word ’n koshuiskamer in Suid-Afrika. Die linkerkant ’n beknopte woonstel in Londen met net ’n skryftafel en ’n stoel.

Die vraag wat onder andere gevra is, is of Die dinge van ’n kind nog universeel is en of dit wel ’n verhoogproduksie werd is?

Die antwoord is ja. Die temas fokus steeds op kindwees, op tienerwees. Vandag se tieners luister dalk nie meer na LM-radio nie, maar hulle eksperimenteer steeds met seks, met dwelms, met drank. Met die eerste soen.

Selfs in 1992, op die vooraand van die nuwe Suid-Afrika, het die ouer Mart dieselfde vraag gevra as vandag se ouers: “Is dit nie beter om my kind eerder in Londen as in Suid-Afrika groot te maak nie.”

Die dinge van ’n kind is soos ’n tiener se eerste soen. Soms maak dit jou bang, ander kere lag jy. Toerien het daarin geslaag om die fyn humor wat in die boek voorkom in die teks in te weef. Soms huil jy. Dit is gelyktydig soet en suur. ’n Onthutsende reis deur die verlede.