Hoewel Ricus Nel al groot bekendheid as veelvuldige instrumentalis verwerf het, het sy gewildheid die afgelope paar jaar ook as sanger toegeneem.

Nadat hy ’n groot treffer met “Hardekole”, saam met Adam Tas, Bok van Blerk en Refentse gehad het, het hy ’n album vrygestel waarop hy hulde aan Worsie Visser gebring het. Nou is hy egter terug met Pure plaas, waarop hy weer eens oorspronklike liedjies met bekende country-treffers en ’n instrumentale snit kombineer.

Die eerste snit is seker die Afrikaanse treffer van die jaar. Op “Boerepompie”, wat reeds besig is om teen die trefferslyste uit te klim, sing Ricus nie net nie; hy speel ook konsertina. Hy kan dit gerus meer gereeld doen. Snotkop maak iets besonders van elke snit waarop iemand anders saam met hom sing, en hier doen hy dit weer. Die boodskap is dat plaas- en stadsjapies nie eintlik veel van mekaar verskil nie. In “Bosveld TV” sing Ricus van sy liefde vir die Bosveld, en die begeerte om net uit die gejaag van die stad te kom. “Bokkies jag” is nog ’n hoogtepunt op die album; daar word reeds bespiegel dat dit die volgende enkelsnit gaan wees. Enigiemand wat al in Pretoria gewoon het, sal van “Pretoria-hart” hou; dit kan ook ’n treffer word. Ricus sluit altyd minstens een country-liedjie per album in, en hierdie keer was sy keuse Kenny Rogers se treffer “Coward of the county”. Die boodskap is dat ’n mens nie moet baklei tensy dit vir die eer van jou geliefde is nie. Dis baie goed dat Ricus hierdie liedjie juis nou opgeneem het noudat hy ’n seun het. Hopelik sal Ricus dit gereeld vir hom sing. “Sweet vir my sweet” is ’n ongelooflike lekker oorspronklike liedjie; dit móét gereeld radiolugtyd kry!

Ricus is afkomstig van Rustenburg en daarom kon ’n mens seker verwag dat hy Chris Blignaut se ou bekende treffer “Die Bosveldbul” sou opneem. Hy het dit egter nie alleen gedoen nie; die Klimpwerf-orkes speel saam met hom. Die hele CD bestaan egter nie net uit vrolike liedjies wat op die dansvloer gemik is nie; “Staan vas” se lirieke is positief en laat ’n mens eintlik dink. Met hierdie liedjie wys Ricus ook sy ernstige kant. Die volgende country-liedjie op die album is John Denver se “Country roads”, waarop Steve Hofmeyr, Demi-Lee Moore en Riana Nel saam met hom sing. Gelukkig het hulle by die oorspronklike musiekstyl gehou en dit nie in ’n partytjieliedjie verander soos wat Hermes House Band gedoen het nie. Natuurlik is ’n Ricus Nel-CD onvolledig sonder ’n bietjie Boeremusiek. Op “Platboompolka” bespeel hy die ou Boerekonsertina, net soos wat die komponis, Boetie Kallis, gedoen het. Ricus se seun Dawid is onlangs gebore; hierdie CD is die eerste een wat hy sedertdien opgeneem het. “Dawid” is regtig ’n pragtige liedjie en ’n mens kan seker wees dat hy dit sal waardeer as hy oud genoeg is. Die laaste snit op die album is ’n uitstekende weergawe van Neil Diamond se pragtige liedjie “Play me”.

Dit het nie lank geduur voordat hierdie album ’n topverkoper geword het nie; en dis maklik om te verstaan hoekom. Ricus is ’n uiters talentvolle sanger, liedjieskrywer en instrumentalis en elke keer maak hy seker dat daar iets vir elke moontlike voorkeur op sy CD’s is. Daarom kan hierdie album baie sterk aanbeveel word.