Gewoonlik beskou jong kunstenaars wat tot die musiekbedryf toetree, sekere popkunstenaars as hul vernaamste invloede, maar Sunel van der Linde, wat onder haar naam sing, is ’n uitsondering op hierdie reël.

Hoewel Sunel lyk asof sy ’n doodgewone popsangeres kan wees, is dit alles behalwe die waarheid, aangesien sy haarself as ’n aanhanger van jazz- en swing-musiek beskryf en eerder deur kunstenaars soos Dean Martin, Ella Fitzgerald en Katie Melua geïnspireer word. Selfs die titel van haar debuutalbum is onkonvensioneel. Symtome is haar eie skepping; dit is ’n vermenging van die Engelse woord “symptoms” en die Afrikaanse woord “simptome”. Haar stem herinner baie aan dié van die internasionale jazz-sangeres Joss Stone en is iets heeltemal nuuts in Afrikaans.

Die eerste snit vanaf die album, “Myself in jou gevind”, is, soos die meeste snitte, haar eie komposisie, en ’n mens kan van die begin af agterkom dat jy nie hier met ’n doodgewone sangeres te doen het nie. Die huidige enkelsnit, “Die waarheid maak seer”, is nog een van haar eie komposisies; volgens haar is dit ’n liedjie waarna ’n mens moet luister wanneer jy besef dat die verhouding waarin jy jou bevind, nêrens heen gaan nie en die beloftes wat gemaak is, nutteloos is. Hierdie liedjie behoort ’n treffer te word, nie net omdat dit ’n boodskap uitdra waarmee baie mense hulle kan vereenselwig nie, maar ook omdat Sunel met iets besonders vorendag gekom het. “Hart se wens” was die vorige enkelsnit, en weer eens is dit ’n besondere snit waarin sy van ’n liefdesteleurstelling sing. “Soos ’n dwelm” gaan oor iemand wat nie goed is vir jou nie, maar vir wie jy tog lief raak. Hierdie liedjie is deur Hugo Ludik en Vaughan Gardiner geskryf. Die eerste Engelse snit op die album is “Games”; sy bewys dat sy ewe goed Engels as Afrikaans kan skryf en sing. Darryl de Lange het die pragtige ballade “Als oor jou” saam met Sunel geskryf; dit is een van die mooiste snitte op die album.

“Fickle heart” was ’n baie groot treffer op die radiostasie SFM; as jy nie van beter geweet het nie, sou jy gedink het jy luister na Katie Melua, ’n kunstenaar wat nie net een van haar grootste musiekinvloede is nie, maar in wie se geselskap sy beslis tuishoort. “Airplanes” is nog ’n skitterende snit wat sy self geskryf het. Die woorde van “Never trust a man” is dalk effens sinies, maar sommige mense sal dit as die waarheid beskou. Die laaste snit op die album wat sy geskryf het, is haar eerste Afrikaanse enkelsnit, “Hart op jou mou”; weer eens is dit ’n uitstekende snit. Die laaste snit, en die enigste een wat sy nie help skryf het nie, is Sonja Herholdt se deurbraak-treffer “Ek verlang na jou”. Die gestroopte verwerking, met niks anders nie as akoestiese kitaarbegeleiding, is eenvoudig skitterend; en sal beslis Sonja se goedkeuring wegdra. Hierdie liedjie is al ’n paar keer opgeneem, maar Sunel se weergawe maak dat ’n mens van voor af daarna luister.

Dit is sommer van die begin af duidelik dat hierdie pragtige blondekop konvensionele denke uitdaag en dat ’n mens haar nie vlak moet kyk nie. Sy is beslis nie die gemiddelde popsangeres wat daarop uit is om haar siel te verkoop net om duisende CD’s te verkoop en ’n verskietende ster te word nie. Hierdie CD is tot dusver die heel beste debuutalbum van vanjaar en behoort ook een van vanjaar se algehele bestes te wees. As jy op soek is na ’n album wat meer om die lyf het as die musiek wat heeldag oor die radio gespeel word en wat die toets van die tyd sal deurstaan, moet jy dit deel van jou versameling maak!